Tosca (opera)

Tosca

Tosca is 'n opera in drie bedrywe deur Giacomo Puccini ná 'n Italiaanse libretto deur Luigi Illica en Giuseppe Giacosa. Dit is die eerste keer op 14 Januarie 1900 opgevoer by die Teatro Costanzi in Rome.

Die werk, wat gebaseer is op Victorien Sardou se Franstalige toneelstuk uit 1887 getiteld La Tosca, is 'n melodramatiese stuk wat in Junie 1800 in Rome afspeel, met die Koninkryk van Napels se beheer oor Rome wat bedreig word deur Napoleon se inval in Italië. Dit bevat tonele van marteling, moord en selfmoord. Dit bevat ook van Puccini se bekendste liriese arias.

Puccini het Sardou se toneelstuk gesien toe hy in 1889 deur Italië gereis het. Hy het uiteindelik in 1895 die regte bekom om die werk in 'n opera te omskep. Die omskakeling van die franstalige toneelstuk in 'n Italiaanse opera het vier jaar geduur. Gedurende hierdie tyd het die komponis herhaaldelik met sy libretis en uitgewer gestry. Tosca is tydens 'n tydperk van onrus in Rome opgevoer. Die eerste opvoering daarvan is 'n dag lank uitgestel uit vrees vir onluste. Ondanks onverskillige resensies van kritici was die opera 'n onmiddellike sukses.

Musikaal gewys is Tosca gestruktureer as 'n "deur-gekomponeerde" werk, met arias, resitatiewe, refreine en ander elemente wat musikaal tot 'n naatlose geheel verweef is. Puccini het Wagneriaanse leitmotiewe gebruik om karakters, voorwerpe en idees te identifiseer [1][2]—Die krag van die musiek en die vindingrykheid van die orkestrasie word alom erken. Die dramatiese krag van Tosca en sy karakters fassineer vandag steeds kunstenaars en gehore, en die werk bly een van die mees uitgevoerde opera's. Verskeie opnames van die werk, beide lewendig en in die ateljee, is reeds uitgereik.

  1. Kerman 2005, p. 205.
  2. Walsh, Stephen. "Tosca, Longborough Festival". theartsdesk.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2015. Besoek op 16 Januarie 2015.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy